Hor Meisieskool Bloemhof
10.jpg

Historiese oorsig

Die Hoër Meisieskool Bloemhof is die oudste en enigste Afrikaans-mediumskool vir dogters in Kaapland en kan terugkyk op 'n roemryke en tradisieryke verlede.

In 1874 het ds JH Neethling, prof NJ Hofmeyr en prof J Murray die voortou geneem om voorsiening te maak vir die opvoeding van Hollandssprekende dogters op Stellenbosch.

Bloemhof was eers Engels!

Die Hoër Meisieskool Bloemhof het sy beslag gekry op 13 Maart 1874 as die Girls' Public School nadat daar met me McLachlan onderhandel is wat 'n klein private skooltjie bedryf het.

Op 26 Januarie 1875 is Bloemhof formeel geopen met mej Gilson van die Mount Holyoke Seminarium in die V.S.A. as eerste prinsipaal. As gevolg hiervan is daar soms in die begin na die skool verwys as die "Amerikaansche Bloementuintjie te Stellenbosch".

Bloemhof was die produk van geloofsmoed en die opvoeding het op 'n sterk godsdienstige basis berus. Ons kan met dankbaarheid getuig dat dit nog steeds die uitgangspunt is.

Tussen 1875 en 1897, wat as die Amerikaanse tydperk bestempel kan word, het die skool veral onder die bekwame leiding van mej Gilson gegroei en bekendheid verwerf.

Die naam "Bloemhof":

Aanvanklik is die naam "Bloemhof" slegs gekoppel aan die kosinrigting omdat daar volgens ds J H Neethling "Bloeme vir die volk" gekweek word. Reeds in 1879 is die naam egter ook amptelik oorgedra na die skool.


In Julie 1897 word me Lucie Joubert, wat die volgende vyf en twintig jaar lank diep spore in die Bloemhofgeskiedenis sou trap, skoolhoof. Nie net die skool nie, maar ook die koshuis beleef tydens haar hoofskap 'n bloeiperiode. Bloemhof begin intern deelneem teen mekaar in drie huise, naamlik Hofmeyr, Neethling en Joubert, vernoem na twee van die stigterslede, asook me Lucie Joubert.

Die skool is aanvanklik gehuisves in die sierlike gebou in Ryneveldstraat, wat vandag bekend staan as die Eben Donges-sentrum, met onder andere Neethlinghuis en Erfurthuis as koshuise.

Bloemhof word Afrikaans:

Aanvanklik was die voertaal volgens die wet van 1865 Engels sodat die skool staatsondersteuning kon geniet.

Dit was eers in 1925 onder hoofskap van me M H le Roux dat die voertaal na Afrikaans verander is. Sy was ook die eerste oudleerder wat skoolhoof geword het.

Bloemhof stig die Onderwyserskollege "Denneoord":

Vroeg in die beginjare van Bloemhof het daar 'n behoefte ontstaan aan behoorlik opgeleide onderwyseresse uit eie geledere en daarom is daar met die opleiding van onderwyseresse in Bloemhof begin. Hierdie opleidings-program het in 1920 uitgeloop op die stigting van die Onderwyserskollege Denneoord.

Bloemhof groei...:

Die depressiejare het 'n insinking gebring, maar toe me C van der Walt in Januarie 1935 die hoofskap aanvaar, is die bordjies verhang en het die dogters van alle dele in die land na Bloemhof gestroom.

Twintig jaar lank het mej Van der Walt al haar kragte aan Bloemhof gewy. Dit is dan ook aan haar besielende leiding te danke dat Bloemhof begin het met die versameling van die huidige skilderyskat waarop alle Bloemhoffers baie trots is.

Tydens me L C Swart se hoofskap (1935-1963) is die huidige hoërskoolgebou en koshuis beplan en die terrein uitgelê en verfraai.

Bloemhof skuif na die huidige perseel:

Die geboue is in 1960 ingewy en in gebruik geneem. Die feesrede is gehou deur dr Otto du Plessis, die destydse Administrateur van Kaapland. By dié geleentheid het hy die volgende gesê: "My bede is dat die Hoër Meisieskool Bloemhof steeds meer sal wees as net 'n sterk en gesonde opvoedkundige inrigting. Ek vertrou dat die skool altyd 'n versinnebeelding sal wees van daardie mooiste van alle boodskappe wat ooit aan die mensdom gegee is: Geloof, Hoop, Liefde, en die grootste hiervan is die Liefde."

In 1964 word me CES Coetzee skoolhoof en word daar op vele terreine voortgebou en uitgebou soos onder andere die daarstelling van addisionele sportgeriewe; die installering van interkommunikasie-stelsels; die aankoop van 'n vleuelklavier; die instel van 'n Huisstelsel om gesonde kompetisie- en spangees aan te wakker, en die ideaal van 'n eie swembad word verwesenlik. 'n Grootskaalse uitbreidingsprojek word by die skool en die koshuis aangepak en in 1980 feestelik ingewy deur Sy Edele, mnr Gene Louw, Administrateur van Kaapland.

Die laaste twee dekades:

Van 1985-1993 neem me LH Marais (Barrie) die leisels oor en sy het die moeilike taak om in harmonie met die vele veranderinge op onderwysgebied in die Republiek van Suid-Afrika op akademiese, sosiale en ekonomiese gebied hervorming deur te voer.

Sedert 1992 word die skool bedryf as 'n staatsondersteunde skool.

Vanaf Januarie 1994 is me S Nowers skoolhoof van Bloemhof. Onder haar leiding was Bloemhof se onderwysfilosofie steeds: "'n Skool is 'n gebou met die dag van môre daarbinne. Elke dogter moet liggaamlik en verstandelik groei en in guns by God en die mens toeneem (Luk. 2:52).  Me Nowers het sestien jaar as hoof gedien by Bloemhof.  Onder haar leiding het Bloemhof 'n gerespekteerde plek in die gemeenskap ingeneem, en 'n skool wat toekomsgerig en modern is geword.  Die Bloemhof Sentrum, wat meer as 1000 mense kan akkommodeer, was een van Me Nowers se inisiatiewe, asook die modernisering van die Bloemhof skooldrag.

Me Wilna van Heerden neem oor as hoof vanaf Junie 2010 nadat sy vir 16 jaar as adjunkhoof gedien het.

Die huidige omstandighede vereis 'n toekomsgerigte benadering. Steeds word daarna gestreef om te midde van snelle verandering en aanpassings nie afbreuk te doen aan die mooi tradisiegehegtheid van Bloemhof nie.





InvestecRola MotorsIncredible Connection