Hor Meisieskool Bloemhof
5.jpg

Huis Bloemhof

Huis Bloemhof inligting

Huis Bloemhof koshuis

Huis Bloemhof is 'n goed toegeruste tuiste waar ongeveer 160 dogters gehuisves kan word. Die koshuis is op dieselfde boomryke terrein as die skool geleë wat tot gevolg het dat leerders in die namiddae vrye toegang tot die skool se swembad, tennisbane en ander geriewe het.

Dit is in 'n stil omgewing en tien minute se stap vanaf die middedorp.

Die koshuis beskik oor twee TV-kamers, met M-Net, DSTV en 'n DVD-speler. Daar is ook 'n rekenaarlokaal met vyf rekenaars en 'n drukker tot beskikking van die leerders.

Ons reël twee tot drie uitstappies per kwartaal op die koshuis se onkoste om naweke meer interessant te maak vir dié wat nie kan huis toe gaan nie. Sondae braai ons soms vleis om nader te kom aan "ma se kos".

Woensdag- en Vrydagmiddae mag koshuisleerders in skoolklere dorp toe gaan en Saterdae in gewone klere. Hulle mag ook Saterdae gaan fliek. Ander geleenthede mag slegs bygewoon word met die ouers se toestemming, wat telefonies of per faks kan geskied.

Leerders wat nie elke naweek huis toe gaan nie, woon Sondae oggend- en/of aanddienste by. Kategeseklasse word weeksaande in die koshuis aangebied.

Die junior dogters is drie in 'n kamer, terwyl die seniors (graad 11 en 12) twee in 'n kamer is. Die koshuis is in seksies verdeel wat elkeen 'n eie naam het. 'n Prefek is hoof
van die seksie en hanteer al haar seksie se probleme en deel in hul vreugdes. Die seksies kompeteer ook op vele terreine teen mekaar en dit dra by tot 'n gesonde gees.

Die koshuis beskik oor 'n baie goeie privaatwasgoeddiens waar die leerders hul wasgoed gratis kan laat versorg. Daar is egter ook goeie wasgeriewe (wasmasjien en tuimeldroër)
vir diegene wat verkies om self hul klere te was en stryk.

Al is Huis Bloemhof 'n groot koshuis, kan ons in alle eerlikheid sê dat daar 'n huislike atmosfeer heers en dat die inwoners soos 'n groot familie saamwoon.

Ons keur die dogters op grond van hulle deelname en prestasies in hul vorige skool. Indien deelname gestaak word, kan sy haar plek in die koshuis verloor.

Diegene wat ver woon moet asseblief besef dat u dogter nie die skool vroeër mag verlaat as gevolg van 'n saamrygeleentheid nie. Die skool sluit ook op 'n Vrydag om 14:05.

InvestecRola MotorsIncredible Connection